Geliefde oud-inwoner van St Francisbaai, Dinks Liebenberg oorlede

‘n Geliefde oud-inwoner van St Francisbaai, Dinks Liebenberg, is vroeg Saterdagoggend 2 Desember 2017 in Grahamstad op die ouderdom van 95 oorlede waar sy die afgelope vier jaar gebly het. 
Dinks het vroeg Vrydagoggend ‘n beroerte gehad.  Haar dogter Lynette het haar in haar tuinwoonstel rustig gemaak, en na sy in ‘n koma gegaan het, is sy vroeg Saterdagoggend rustig oorlede. 
 
Dinks is op 4 Februarie 1922 as jongste dogter van die bekende rugbyspeler en eerste Springbokrugby-kaptein van Suid-Afrika, Paul Roos en sy vrou Suzie gebore.  Nadat sy aan die Hoer Meisiesskool Bloemhof in 1938 gematrikuleer het, het sy ‘n BA Onderwysgraad met hoofvak Huishoudkunde aan die Universiteit van Stellebosch behaal.
Na ‘n kort onderwysloopbaan in George en later Moorreesburg trou op 4 Februarie 1950 sy met Bennie Liebenberg.    Dienks was haar lewe lank baie aktief betrokke op verskeie skool- en sportkomitees, die Vroue Landbou-vereniging asook die Round Table.  Sy het talle fondsinsamelings vir onder andere Kindersorg en Rotary Ann’s gedoen.  Sy was ‘n ywerige eiendomsagent in Pretoria, en na haar en Bennie se aftrede in St Francisbaai, het sy ook haar loopbaan daar voortgesit as Dinks Liebenberg Eiendomme.
In haar bedrywige aftreejare stig sy ook die St Francis Tuinbouklub en reel maandelikse besoeke aan verskeie interessante tuine, plase en toeriste-aantreklikhede.  Sy was stigterslid van die St Francisbaai Brugklub wat steeds die jaarlikse Dinks Liebenberg NSRI Fondsinsamelingstoernooi hou.  Dinks en Bennie was ook nou betrokke by die St Francis Tennisklub asook St Francis Golf Klub.
Bennie sluit sy loopbaan as Standard Bank Bestuurder in Hanover, Kuruman, Germiston, Witbank, en Pretoria in Klerksdorp af en saam tree hul in 1980 in St Francisbaai af, waar Bennie in 1992 aan Leukemia sterf.  
Dinks laat vier kinders, Lynette, Marlene, Andre en Suretha en hul gades agter, 7 kleinkinders en 6 agter-kleinkinders agter.  ‘n Gedenkdiens sal op 4 Februarie in Stellenbosch gehou word.
Verified by MonsterInsights